Tuesday 23 September 2014
Home / Omgewingsdruk verander myn-planne

Druk van omgewingsaktiviste het verseker dat ’n mynmaatskappy sy planne verander om in ’n ekologies-sensitiewe gebied tussen Carletonville en Potchefstroom te myn.
  Die Potchefstroom Herald het verlede jaar berig dat die maatskappy Lengana Ventures beplan om langs die Gerhard Minnebron-oog tussen Carletonville en Potchefstroom ’n ystermyn op te rig.
  Inwoners sowel as omgewingskenners het egter hul kommer oor dié aksie uitgespreek aangesien dié oog vir ‘n groot deel van Potchefstroom se drinkwater verantwoordelik is.
  Mnr. Johan Human van Minmet Services, ’n maatskappy wat by Lengana Ventures se aksies betrokke is, het egter die afgelope week aan die Herald gesê dat die area waar daar in dié gebied vir yster gesoek gaan word, weg van die oog geskuif is.
  “Ons het die planne vir die beplande myn van ’n ander maatskappy, die Kgosi-groep, oorgeneem. Ná verskeie klagtes het ons besluit om van die Gerhard minnebron en die Boskopdam weg te probeer kom,” sê Human.
  Volgens hom is die kaart waarvolgens die mynbou-aktiwiteite aanvanklik beplan is, reeds in 2007 opgestel.
  “Ons het ook verdere toetse gedoen en gevind dat die ysterneerslae eerder in ’n area weg van die oog voorkom,” het Human dié week aan die Herald gesê.
  Hy het bygevoeg dat planne om die area waar gemyn kan word, te skuif, reeds verlede jaar gemaak is maar dat die verandering eers onlangs amptelik gefinaliseer is.
  “Ek moet erken dat openbare druk, insluitende dié van omgewingsaktiviste soos Mariette Liefferink, beslis tot ons besluit om die area te skuif, bygedra het.
  “Ons het weer na dié planne gaan kyk en verstaan waaroor die mense ongelukkig is,” sê Human.
  Volgens Human sal daar in September in die nuwe area met verdere prospektering aangegaan word.
  Dit sal volgens hom uit die boor van gate om grondmonsters te bekom, bestaan.
  Human is ook betrokke by die maatskappy New Heights, wat ’n ander ystermyn in die Paadekop-area tussen Carletonville en Potchefstroom beplan. Die proses om mynregte vir dié aksie te bekom, is onlangs begin.
  Intussen is ’n ander verwante maatskappy, Elder Berry Investments, ook steeds met planne vir ‘n goudmyn in die Rysmierbult-omgewing besig.
  “Daar is verseker goud in dié area, maar dit kan nie volgens die normale metal­lurgiese metodes gemyn word nie. Die groot myngroepe soos Goldfields, AngloGold Ashanti en Harmony het ook na dié area gekyk, maar besluit dat dit nie vir hulle winsgewend sal wees om dit te myn nie. Ons het egter ’n metode ontwikkel wat dit winsgewend kan maak om ’n goudmyn oop te maak. Ons behoort sowat 82% van die goud te ontgin,” sê Human.

‘Apatie geen oplossing’

“Sulke veranderings wys dat fluitjieblasery wel ’n verskil kan maak,” het die omgewings­aktivis Mariette Liefferink, na afloop van Human se nuutste onthullings gesê.
“Mense moet nie apaties staan teenoor omgewingsprobleme of moedeloos raak en dink dat hulle niks teen maatskappye wat op die oog af baie groter as hulle is, kan doen nie.
  “Indien mense in dié denkwyse verval, sal niks aan omgewingsprobleme gedoen kan word nie,” het Liefferink bygevoeg.

  COMMENTS 
 
top
OUR LATEST ISSUE

top
bottom