In een uitgawe van Beeld moes ‘n mens verlede week lees hoe Noordwes se premier, Thandi Modise, skoolkinders in die provinsie om verskoning vra vir amptenare in die departement van onderwys se laksheid om handboeke en skryfbehoeftes te voorsien en, sê sy, hoe ‘n gebrek aan leierskap korrupsie bevorder. Nogal!
Wie is die hoof van die provinsiale regering in Noordwes? Is dit dan nie juis die premier nie? In plaas daarvan om op ‘n beraad teen korrupsie te sê leierskap begin tuis, kon die premier eerder net gesê het watter amptenare geskors of uit die departement ontslaan is as gevolg van die skande. Dit sou ‘n voorbeeld van goeie leierskap getoon het. Maar nee, die aangeleentheid “word ondersoek”.
Liewe land, die ondersoek moes lankal klaar gewees het. Hoe lank kan dit neem om uit te vind wie die boeke en skryfbehoeftes aangekoop het, by wie dit aangekoop is, wanneer dit afgelewer moes word en wie dit moes aflewer. Dit behoort net ‘n paar telefoonoproepe te neem. Intussen is daar dalk hoeveel meer skole betrokke as dié waarvan ons weet, omdat hulle moontlik te bang is om te praat, want dan is hulle weer daaroor in die moeilikheid. Wat ‘n bose kringloop!
Wil iemand nie vir ons sê hoeveel ondersoeke na korrupsie, swak werk en luiheid is op hierdie oomblik in Noordwes aan die gang nie? En sommer ook hoe lank die ondersoeke nou gemiddeld al duur.
As mens kyk na die swak ouditverslae van die hele Noordwes, die baie korrupsie, die swak voorbeeld wat gestel word aan stadsrade en die stadige optrede teen korrupsie en blatante luiheid, dan behoort die premier baie sterker op te tree as om net toesprake te maak. En dan: (as die premier reg aangehaal is) dat “Afrika sy waardigheid verloor het toe die skepe hier aangekom het”. Wat op aarde bedoel sy daarmee? Dat dit ander se skuld is?
Dit is juis die kern van die probleem. ‘n Mens behoort nie ander die skuld gee nie. As ‘n mens dit doen, stap jy weg van die spieël af. ‘n Mens moet voor die spieël bly en jouself vra wat kon jy gedoen het; nie ander nie. Jyself.
Maar kom ons gee die premier krediet ook. Dankie dat sy burgemeesters in die provinsie gewaarsku het om amptenare, wat vir eie gewin optree (en nie wil dien nie), uit te skop! Ook dat sy beloof het dat daar teen korruptes opgetree sal word. Ons stem saam met dat leierskap tuis begin!