Home / News / Rowers dreig bejaardes met warm strykyster

“Jy’s ’n skelm, jy lieg vir ons,” het die
rower vir oom Jurie Barnard (82) gesê
terwyl hy die R300 offergawe van die
kerk uit sy baadjiesak gegryp het.
“Maar dis nie my geld nie, dis die Here
se geld,” het oom Jurie hom geantwoord.
“Ek is die Here, ék is die Here,” het die
rower hom toegesnou en oom Jurie twee
keer teen die kop geklap.
’n Bejaarde egpaar van die plaas Tygerfontein
in die Schoemansdrift-omgewing
het Sondagoggend onder ’n plaasaanval
deurgeloop nadat hulle in hul plaashuis
ingewag is.
Oom Jurie en sy vrou tant Anna (80)
het na kerk eienaardige tekens opgemerk
toe hul by die huis stop, maar was
steeds gerus. “Ons het eers gewonder
hoekom die een gordyn skielik toe was
want dit was oop voor ons gery het.
Ons het maar gedink dit was seker die wind,”
sê tant Anna.
Die volgende teken was hul huis se
middeldeur wat oopgestaan het. “Plaas
het ons maar teruggedraai, want toe kyk
ons in die geweer vas.”
“Goeiemore,” sê die twee aanvallers
terwyl hulle uit een van die kamers gestap
kom. Oom Jurie het eers die wapen
probeer afneem, maar is in die proses
met ’n mes in sy hand gesteek.
Die egpaar is daarna in ’n kamer ingedruk.
“Ek het my selfoon in my handsak
gehad en wou gou ’n noodknoppie druk,
maar toe gryp een dit uit my hand.”
Die rower het die egpaar op ’n bankie
laat sit en hul hande en voete is vasgebind.
“Hulle het blou baaltou êrens in
die hande gekry, maar dit was te min en
het kort-kort gebreek.” Die rowers het
toe koorde van elektriese toestelle afgesny
en die egpaar se voete vasgebind.
Die een rower het oom Jurie se skoene
uitgetrek en vir homself aangetrek.
Die aanvallers het geld en die egpaar
se bankkaart gesoek. “Ek het R30 in my
handsak gehad wat ek vir hulle gegee het
en gesê ons het net ’n tjekboek.”
Hulle het die tjekboek gevat en oom
Jurie gedwing om ’n tjek vir hulle uit te
maak. Hy het eers ’n bedrag van R2 000
ingevul, maar die rowers was glad nie
tervrede nie. “Wat moet ek met die geld
maak, dink jy ek is ’n kind,” het een
rower toe gesê en die tjek in die oom se
mond gedruk.
Die oom is ’n tweede keer gedwing om
’n tjek te teken, maar die rower het self
die bedrag ingevul. Die bank het intussen
verseker dat die tjek gestop is.
Die egpaar is ook met ’n warm strykyster
gedreig. “’n Rower het met die strykyster
oor die bed gestryk om te wys hoe warm
dit is en dit naby my gesig gehou.
“Hulle was só selfversekerd,” vertel tannie
Anna en knyp haar oë toe.
Die egpaar se koppe is met ’n kombers
toegegooi, lappe in hul monde gedruk en hulle
is in ’n kamer toegesluit.
“Soos wat die rowers uit die huis beweeg, het
hulle al die deure agter hulle gesluit. ‘Ons eet
eers dan loop ons,’ het hulle gesê.”
Die rowers het met onder andere die egpaar
se bakkie, horlosies, radios, tasse,
kruideniersware,
vleis en ’n .22-geweer op die
vlug geslaan.
Oom Jurie kon daarin slaag om hom los te
kry waarna hy sy vrou gehelp het. “Dit was my
verlossing, ek het nie skoene aangehad nie en
kon my voete maklik los kry.
“Toe vat ek dieselfde strykyster en brand die
drade om my vrou se voete los.”
Die egpaar kon op ’n ekstra paar sleutels
afkom en die kamerdeur oopsluit. Oom Jurie
het deur ’n venster geklim en by een van sy
plaaswerkers byna ’n kilometer van hul huis
af hulp gaan soek.
Die familie wil die gemeenskap, ER24 en die
plaaslike rampbestuurvrywilligers bedank vir
hul ondersteuning as ook die polisie wat die
saak met die grootste omsigtigheid hanteer
het.

  COMMENTS 
 
WEATHER
Weather for Saturday 2013-05-25
Please select your area for forecast
CPT 11° - 19° icon
PTA 8° - 24° icon
JHB 9° - 23° icon
BLOEM 5° - 26° icon
DBN 16° - 25° icon
PE 10° - 23° icon
Visit AfricaWeather.com for a more detailed forecast.
 
What's Happening
Search by category
SCHOOLS
Find local schools
Groups / Clubs
Find local Groups / Clubs