Sportman, akademikus en sielkundige. Maar ook ’n pa, ’n man, ’n vriend.
Sy huis se steunpilaar. Altyd raad, altyd antwoorde. Ysterman, Ultraman. En deur dit alles, gelowige.
Maar ’n fratsongeluk byna twee jaar gelede het sy menswees van elke dag op die proef gestel. Hom gedwing om sy eie raad te volg. “Dit het my genoop om ’n besluit te maak: Gaan ek bitter of beter wees?” Hy het besluit om dít wat hy vir sy pasiënte verkondig, self toe te pas. “En dit is om positiewe doelwitte te stel en voluit te lewe tot hy eendag doodgaan. Nie te wag om dood te gaan nie.”
Op 17 September 2010 wou prof. Joubert ’n tak so hoog soos sy huis se dak afsaag en het op ’n leer geklim. “Met die opklim het ek besef dis baie hoog. Ek sê altyd vir die kinders om hul eerder vas te maak as dit so hoog is, maar toe doen ek dit nie self nie.” Sy vrees het hom nie verniet gewaarsku nie. Toe die tak byna af is, pluk die tuinwerker aan die tou waaraan die tak vas was en daarmee ook die leer onder hom uit.
Met die kragsaag in die een hand en ’n noodkreet, gryp hy krampagtig na onder-steuning aan ’n ander tak. Maar dit help nie. Gravitasiekrag se besluit was finaal en hy stort van die leer af en beland op sy regtervoet. “Toe bars my regter been bokant die enkel oop.”
Sy buurman by wie hy die kragsaag geleen het, het hom hoor val en dadelik gaan ondersoek instel. Prof. Joubert is na Mediclinic Potchefstroom se ongevalle eenheid geneem waar die ortopeed, dr. Hannes Jonker, hom bygestaan het; ’n man waarvoor hy die hoogste respek het.
Later is daar in Bloemfontein vier operasies gedoen, in die Zuid-Afrikaanse Hospitaal twee. Maar ten einde laaste het prof. Joubert 18 operasies binne 19 maande gehad, vier beenoorplantings, 16 ysters en penne binne sy been, later ysters rondom sy been aan die buitekant; en dit alles oor ’n tak. Tot die woorde van ‘n trauma-ortopeed hom yskoud laat word het: “Het jy nog nie aan amputasie gedink nie!?”.
“Amputeer! Ek was ongelooflik geskok. Dis die laaste opsie waaraan ek gedink het. Ek is sportmal. Ek het al ’n paar keer die Comrades gehardloop, die Ysterman, die Ultraman, Argus en die 94.7 voltooi. Ek het nog nie eers die Two Oceans gedoen nie.”
Hy is gekonfronteer deur homself. Wat maak jy as sielkundige nóú?
Prof. Joubert het dadelik begin oproepe maak, navorsing gedoen. “As ek my been gaan amputeer, wou ek iemand kry wat weet wat hy gaan doen. Ek word een van die dae 55, en wil graag nog baie dinge doen indien dit my beskore is.”
Prof. Joubert het nou self begin raad en antwoorde soek. Tot hy by die ortotis wat die prosteses vir die paralimpiese span maak, dr. Johan Snyders van IceXpress, gaan aanklop het.
“Daar was dalk ’n 70% kans om my voet te red. Maar dit sou moontlik kon lei na nog ’n klomp operasies en my been sou steeds nie volkome herstel nie. Ek sou dalk met ’n stywe enkel gesit het of die een been sou korter as die ander een wees. Ek kon ’n interne prostese kry en nooit weer sport doen nie. Ek kon lank op antibiotika wees en dalk infeksie kry wat moontlik kan versprei. Dit kan later lei tot ’n bo-been amputasie wat baie slegter sal wees. En ek sien nie kans daarvoor nie, ek wil nog sport doen. En met ’n eksterne prostese kan ek alles doen.”
Op die ou end ná alle emosies en skok verby was, was dit ’n rasionele besluit. “Dit is nogal erg om by jou volle positiewe vir ’n dokter te sê: “Stoot my in die teater in en saag my been af!”
Op 20 April 2012 het hy die amputasie by die Zuid-Afrikaanse Hospitaal in Pretoria onder leiding van dr. Charl Olivier ondergaan. “Dis nie lekker nie, maar dit het gebeur. Daar steek ’n klompie ironie daarin dat so iets met ’n sielkundige moes gebeur. Dis ’n nuwe fase met nuwe uitdagings. Mens moet dit aanvaar en die beste daarvan maak. “
Hy leun uit sy stoel oor na ’n boekrak en haal ’n boekie uit. “Viktor Frankl het in sy boek ‘Man’s Search for Meaning’ gesê: ‘When we are no longer able to change a situation, we are challenged to change ourselves.’
“Ek het besef dat ek uiters arrogant was om te dink dat ek meer spesiaal as ander mense is en dat ’n amputasie nie vir my beskore sou wees nie? Ek gaan my nie daarmee verknies nie, dit gaan nie help nie. God het seker gedink: jy het mos gewoonlik raad vir ander mense se hartseer… Wat maak jy nou met hierdie kaart wat ek speel? “Put your money where your mouth is”. “Ek dink God het ’n goeie sin vir humor…”
Prof. Joubert het aanvaar. Verandering bring nuwe uitdagings, moedhou, en hy doen dit tree vir tree.
Die onlangse DirtMax 10 kilometer-bergfietswedren in Parys was vir hom ’n nuwe begin. ’n Nuwe uitdaging. Hy het ses keer geval… maar weer ses keer opgestaan. Een papwiel gehad en steeds die wedren voltooi. (Hy spot en sê hy’t in elk geval nog altyd van sy bergfiets afgeval).
Deursettingsvermoë, uithouvermoë. Prof Joubert sê dat sy vrou Gretha hom ongelooflik baie ondersteun het gedurende die 19 maande toe hy op krukke was en aan ’n Lautenbach-masjien gekoppel was wat antibiotika in die oop wonde ingepomp en uitgesuig het. “Gretha en my kinders Niël, Meyer en Carlinke was altyd dààr, altyd positief.”
In diè tyd het dr. Bertus le Roux en prof. Kobus van der Walt “wat soos twee bloedbroers vir my is”, hom deurlopend bemoedig en ondersteun.
Sy kollega en vriend dr. Pieter Conradie die psigiater, het ook kort-kort ingeloer om te kom kyk of sy sielkundige kollega “nog kophou”.
Hy het vir homself die uitdaging gestel om binnekort die Two Oceans met sy “lem” te hardloop.
Waar daar ’n wil is, is daar ’n weg…