Volop nuus maak ’n interessante koerant
Hardenuus, soos koerantmense “sterk” nuusberigte noem, is volop in die koerant van Vrydag 10 Julie 1992.
Die hoofberig se opskrif lui: “Geliefde oupa veg om sy lewe”. Mnr. Callie van der Merwe en sy kleinseun, Carel Kruger (6), het die vorige Sondag met ’n motorfiets gaan ry nadat mnr. Van der Merwe vir sy kleinseun ’n spesiale valhelm gekoop het.
Enkele blokke van hul huis af het ’n bakkie reg voor die motor by ’n huis ingedraai. Carel het gevoel hoe sy oupa rem, die bakkie gesien en in die ry van die motorfiets afgespring.
Mnr. Van der Merwe se regterbeen is in die botsing onder sy knie afgeskeur en is later bo die knie afgesit. Sy dikderm het gebars en hy het later ook aan nierversaking gely.
Niemand is ernstig beseer toe die Diamond Express vanaf Kimberley na Johannesburg naby Boskopstasie ontspoor het nie. Die 170 passasiers is vroeg die Maandagoggend ru uit die slaap geruk deur ’n geweldige slag. Daarna het die trein skielik tot stilstand gekom.
Slegs die laaste drie van die trein van elf waens het ontspoor. Die agterste wa, waarin die kondukteur was, se onderstel is van die bokant af losgeruk.
’n Skoonheidsterapie-student se woonstel in die destydse Huis Nellie Swart, tans Minjonet, is in ’n brand verwoes. Sy was by ’n skoonheidsalon toe sy van die brand verneem het. ’n Weermaglid wat by die woonstel verbygestap en die brand op die tweede verdieping gesien het, het hulp ontbied. Die brand het vermoedelik by ’n muurprop met ’n verlengkoord ontstaan.
’n Rekordgetal van 197 beeste is in Juniemaand 1992 by Potchefstroomse slagpale geslag.
Dieselfde maand is 485 skape, die tweede meeste ooit ook daar geslag.
’n Seldsame advertensie het groter dekking gekry toe die koerant ’n nuusberig daarvan gemaak het. ’n Potchefstromer wat ’n huis op ’n veiling gekoop het, en dit toe nie weer verkoop kon kry nie, het geadverteer dat hy bereid is om die huis vir ’n motor te ruil.