Die Luiperds skuld Potchefstroom ’n goeie tweede helfte van die jaar rugbyseisoen. Dis tyd dat die pawiljoene van Olënpark, die tuiste van Noordwes se rugbyspan, weer volgepak sit met ondersteuners wanneer ons in die finaal van vanjaar se eersteliga van die Curriebeker speel.
Daar is net een manier om die pawiljoene weer vol te kry en maak dat mense op ‘n Saterdagmiddag of Vrydagaand Olënpark toe kom. Wen!! Louis Luyt het blykbaar destyds tydens ‘n vergadering van die Leeus, of dalk was dit nog die ou Transvaal Rugby-unie, gesê vergeet van trompoppies, valskerms en orkeste om Ellispark weer vol te kry. Begin net wen! As hy dit nie gesê het nie, kon hy dit netsowel gesê het. Hy weet hoe om somme te maak.
Die Luiperds het ‘n uiters teleurstellende Vodacombeker-reeks gehad nadat hulle die vorige jaar nog Curriebeker gespeel het. Ondersteuners het groot verwagtings gehad dat die Luiperds sal wys dat hul weglating uit die Premierliga ‘n fout was. Dit het nie gebeur nie.
Nou het hulle weer ‘n kans! Daar is weer geleentheid vir ‘n promosie/relegasie-wedstryd as hulle bo-aan die punteleer van die eersteliga eindig. Hul moet hulself nou bewys en sorg dat Potchefstromers weer Curriebekerrugby op Olënpark sien. Dit kan so gou as aanstaande jaar wees.
Mens wil nie graag vergelyk nie, maar dis algemene kennis dat ondersteuners vra waarom ‘n unie soos Griekwas kon bereik waar hulle nou staan en waarom nie die Luiperds nie. Dis dalk nie heeltemal ‘n billike vraag nie, want rugby-administrateurs kan jou ‘n paar antwoorde gee. Soos dat die Luiperds tot onlangs gewag het (en dalk nog) vir ‘n trommel vol geld wat die Lions aan hulle skuld.
Ons weet die huidige bestuur van die Luiperds het planne en sal graag hierdie negatiewe sneeubal-effek wil omdraai. Ons ondersteun hulle graag hiermee. Dit is ook in die universiteit se rugby-instituut se belang dat die Luiperds ‘n sterk unie is want dit kan oor en weer goeie spelers hierheen lok. Hopelik kan hulle saam goeie planne maak en dat ons die resultate daarvan eersdaags sal sien.