‘n Vrind van Ore sê hy dink dis tyd dat die vulstasie oorkant SuperSpar bietjie hul sokkies optrek. Maandagmiddag het Ore se vrind agter ’n motor stilgehou wat by een van die pompe gewag het. Niemand het kom help nie. Dié motor het toe maar later gery. Ore se vrind trek toe vorentoe en wag. Na ‘n volle vyf minute is daar nog geen petroljoggie in sig nie. Nie eers om te kom sê “jammer, ons kom nou of so iets nie”. Inteendeel, iemand wat ná Ore se vrind stilgehou het word toe boonop nog voor hom gehelp!
Wat van bietjie nuwe tegnologie? Is daar nog nie ’n manier hoe ’n rekenaarstelsel gekoppel aan ‘n kamera kan bepaal in watter volgorde die voertuie by die pompe stilhou nie? Of dalk moet die bestuurder of eienaar bietjie meer tussen die pompe rondbeweeg en kyk wat aangaan.
Gelukkig is daar ’n ander vulstasie net ‘n blok of wat verder aan waar petroljoggies glimlaggend naderhardloop as mens daar stilhou.
Die ondergang
Ore hoor die stadsraad se vergadering wat Donderdag sou plaasvind is uitgestel. Die meerderheid raadslede was seker by die beleidskongres van die ANC. Nou wonder Ore maar net waarom dit nodig is dat so baie soontoe gaan. Kan die burgemeester of iemand anders nie maar gaan bywoon en vir die ander kom vertel wat gesê is nie? Of eintlik kan hulle sommer agterna die beleidsdokumente lees. Dis in die koerante ook. Alles oor die tweede oorgang. Oor ’n paar jaar naby die volgende verkiesing van ’n president sal dit seker die derde oorgang wees. En kort daarna die ondergang.... Ekskuus, Ore mag eintlik nie politiek praat nie.
Pepersproei
Ore hoor die sms-lyn van die Herald is vol van mense wat gatvol is vir almal in Potch wat net ry soos hulle wil. Stoptekens bestaan blykbaar nie meer nie. Kan ons nie maar ’n wet in Potch maak dat mense wat nie by stoptekens stilhou nie ’n spuit pepersproei in die gesig kry. Ore ken iemand wat sal aanbied om die spuitwerk te doen. Blykbaar ’n liggaamsbouer hier in die stad.
En wanneer gaan die padwerkery aan Nelson Mandelaweg eendag klaarkry? Nog hierdie jaar?
Uitstalling gaan aan
Ore hoor Woensdagaand verlede week het polisiemanne in ’n polisiemotor naby die biblioteek gesit en dit het gelyk asof hulle met een of ander misdaadvoorkoming besig was. ’n Vriendin van Ore sê wat egter vir haar verstommend was is dat prostitute, wat mos in daardie area doenig is, nie eers gelyk het of hulle bang is vir die polisie nie. Hulle het rustig voortgegaan om hulself soortvan “uit te stal”.
Dit lyk vir Ore asof prostitusie in Potch dan nou maar reg is. Lyk nie of iemand iets daaraan gaan doen nie.