Mense vra vir my of ek saamstem met die stelling dat Potchefstroom net nog ‘n vaal Noordwes-dorpie sal wees as ons die Noordwes-Universiteit wegvat. My antwoord is onomwonde dat ek nie saamstem nie.
Dit is so dat die NWU se Puk-kampus altyd een van die grootste bydraers tot Potchefstroom se ekonomie sal wees, maar dis vir seker nie die enigste pilaar waarop ons stad se ekonomie gebou is nie.
Ek het die afgelope klompie maande as voorsitter van die Potch-Tlokwe Sakekamer baie nou saam met die sakegemeenskap gewerk en is verras deur wat ek ervaar het.
Ek kan sien hoe ons sakegemeenskap elke inisiatief wat ons aanpak, met albei arms aangryp en ek ervaar die entoesiasme van Potchefstroom se sake- en boeregemeenskap eerstehands.
Ek sien ‘n gemeenskap wat begin, standpunt inneem oor die agteruitgang van ons stad. Ek sien ‘n gemeenskap wat weer ’n “ek is trots om ‘n Potchefstromer te wees”-boodskap wil uitdra na buite.
Dit is wel so dat al die dinge nie in plek is nie en daar is beslis nog baie uitdagings. Werkloosheid, misdaad, hoë koste van energie, te min skole, te min versorgingseenhede vir ons bejaardes en haweloses, ‘n tekort aan instansies wat na ouerlose kinders kan omsien, te min goeie kleuterskole is ‘n paar. Daar is nog behoeftes vir infrastruktuur op ons plase en kleinhoewes. Daar is ook ‘n groot behoefte vir infrastruktuur ons informele dorpsgebiede. Ons ingange en deurgange deur ons dorp kort nog baie aandag.
Aan die positiewe kant weer kan ons vra: “Wat maak dat Potchefstroom die afgelope paar jaar ‘n konstante groei kon ervaar?” Vir my lê die antwoord in Potchefstroom se gediversifiseerde aard:
Ons dorp beskik oor puik kontrakteurs, wat spesialiseer in alle velde van siviele grondwerke en elektrisiteit tot mynbou en konstruksie.
Ons het ook baie goeie raadgewende ingenieurs in elektriese, meganiese sowel as siviele dissiplines. Daar is geoloë, grondtegnici, stads- en streeksbeplanners wat hul kantore hier het.
Ons het groot mynbougroepe wat ‘n Potchefstroom-adres vir hulle hoofkantore verkies asook verskeie ander maatskappye wat landswyd sake doen, en hul hoofkantore in Potchefstroom hou.
Buiten vir die NWU het ons verskeie ander tersiêre opleidingsinstansies wat wissel van skoonheid tot rekenaargeletterdheid. Daar is om en by 79 skole in ons distrik wat skool gee aan ongeveer 44 000 kinders.
Maatskappye in die industriële gebied vervaardig van gesofistikeerde mynboutoerusting tot hoë tegnologie-opsporingsapparate. Potchefstromers vervaardig klere, meubels, tente, komponente vir wapentuig en is leiers in die vervaardiging van gespesialiseerde tegnologiese produkte.
Potchefstroom het baie goeie spoorverbinding en is ook die tuiste van heelwat staatsdepartemente. Potchefstroom is die tuiste van die distrik- sowel as streekshof met meer as 100 prokureurs en advokate wat vanaf Potchefstroom werk.
Die N12, wat die hoofaar tussen die Kaap en Gauteng is, loop deur ons dorp en die ekonomiese waarde hiervan is beslis berekenbaar.
Ons stad is die sporthoofkwartier van die Noordwes. Dink byvoorbeeld aan die Luiperds en Noordwes Krieket wat hier is.
Die Highveld Nasionale Park is weer besig om op koers te kom.
Ons het Aardklop waar derduisende mense van regoor die hele land kom en die Antieke ware-, lente– en motorskoue wat ook bydra om jaarliks baie mense te trek.
Die landbousektor strek van wildsboerdery tot besproeiing en van ekstensiewe beesboerdery tot intensiewe voerkrale.
Ons sakegemeenskap sal moet kyk na dienslewering en vir eens en vir altyd hierdie spook wat in Potchefstroom loop dat mense nie hier goeie diens gee nie, die nek inslaan.
Ek ervaar ook Potchefstroom se gemeenskap as sy grootste bate. Mense met oop hande en goeie harte. Een waar ons binne 48 uur genoeg donateurs kon kry om vir Kansa in Potchefstroom ‘n nuwe tuiste te huur. ‘n Stad waar mense nog tyd vir mekaar het. ‘n Plek waar jy jou slagter, jou haarkapper, jou bakker en die petroljoggie persoonlik ken.
Ons het ‘n sakekamer met amper 180 lede wat graag ‘n verskil in ons dorp wil maak en ons nooi ander instansies om by ons aan te sluit in ons strewe om Saam ‘n Verskil te Maak.
As ek so na alles kyk wat om my besig is om te gebeur weet ek dat ek in geen ander dorp as ons eie Potchefstroom wil woon nie. Dis lekker om ‘n Potchefstromer te wees.
(Artikel drasties verkort weens ruimtebeperking).