Gimmies het Maandag Park Town Boys met twee lopies geklop om die Highveld Lions se verteenwoordiger te wees in die Nasionale skole T20-krieketkompetisie.
Gimmies het eerste gekolf en 127/7 aangeteken in hul toegelate 20 boulbeurte met Rupert Viljoen wat 46 lopies aangeteken het. Park Town Boys antwoord met 125/8 in hul 20 boulbeurte met Michael Eckard wat verwoestend was met die bal en 3 paaltjies vir 18 lopies in 4 beurte vir Gimmies platgetrek het.
Gimmies gaan die Highveld Lions verteenwoordig teen vyf ander skole van die ander franschises wat Paarl Gimnasium (Cobras), Grey College PE (Warriors), Nelspruit Hoërskool (Titans), Westville High School (Dolphines) en Hoërskool Noord – Kaap (Knights) insluit.
Die skole gaan van Vrydag tot Sondag hier in Potchefstroom sake uitspook om die nasionale wenner te bepaal. Tydens die wedstryde speel die spanne in die franschises se kleure en nie dié van die onderskeie skole nie.
Gimmies (Highveld Lions) speel Vrydag en Saterdag in vier wedstryde met die moontlikheid van ‘n finaal Sondag op Senwes Park. Alle wedstryde word op Witrand, Puk 1 en 2 en op Senwes Park gespeel.
Vrydag vanaf 09:00 vind drie wedstryde plaas en ‘n verdere drie wedstryde om 13:30. Die program vir Saterdag lyk dieselfde as Vrydag. Die Lions se bepalings is as volg:
Vrydag 09:00 teen Knights op Senwes Park, 13:30 teen Warriors op Witrand en Saterdag 09:00 teen Cobras op Puk 1, 13:30 teen Dolphines op Puk 1.
Die finaal word 11:00 Sondag op Senwes Park gespeel.