Die sweet pêrel op die manne se voorkoppe, tonge begin sleep, maar coach Bossie sê: “ Ons doen dit weer.”
Die Luiperds het hierdie week met meer vuur geoefen want maande se voorbereiding word Saterdagmiddag in Mafikeng op die proef gestel wanneer die Luiperds teen die Bulle se Vodacombekerspan ‘n oefenwedstryd speel.
“Die wag maak ‘n mens dood, ons moet nou begin speel, ons is reg vir die seisoen,” het Brendon Snyman aan die Herald gesê. Onder die spelers is daar ywer om die wedstryde aan te pak.
Gekyk na die intensiteit van die spelers en die bevrediging op die afrigters se gesigte is daar ‘n senuagtige opgewondenheid oor die seisoen. Saterdag se wedstryd gaan baie vrae beantwoord en ‘n goeie barometer wees vir die seisoen wat voorlê.
Met druktyd was die beginspan vir Saterdag se wedstryd in Mafikeng nog nie beskikbaar nie.