News / Hartverskeurend

Wat ‘n diep gevoel van smart opwek.

  Dít is volgens die HAT wat ‘hartverskeurend’ beteken, maar dit kon net sowel gesê het: Om vir 79 minute voor te loop teen ‘n driemalige Varsitybeker-kampioen net om in die 80ste minuut van ‘n wen deur ‘n plaasvervanger haker ontneem te word.

  En, dit is ook hoe Maandagaand se Varsitybeker-draaiboek gelees  het toe die NWU-Puk op die Fanie du Toit-sportterrein 14-12 teen Maties in die doodsnikke van hul kragmeting verloor het na Gareth Light ‘n dryfmaalbeweging vir sy span afgerond het.

   “Dit is om van te huil,” was een ondersteuner se aangeklamde kommentaar hoewel een byvoeglike naamwoord vir drukdoeleindes ontbreek.    

  Ja, vir sommige wonde is daar net nie salf aan te smeer nie. Twee gulde geleenthede vir drieë het geen vrugte afgewerp nie toe SW Oosthuizen binne toe gebreek het in plaas van regs uitgee toe ‘n oop doellyn gewink het en later het Spanner Pretorius die bal laat val met geen verdediger tussen hom en vyf punte nie.

  Pretorius was egter oudergewoonte ‘n vuurvreter en Oostuizen gevaarlik op die aanval. Mens sidder om te dink hoe eersgenoemde aanstaande week teen Tukkies vir sy blaps gaan opmaak met sy fisieke aanslag en moordoë in die aangesig van sy teenstanders.

 Pukke het nie op hulle laat wag om Maties op die agtervoet te plaas nie toe ‘n goed berekende aangee deur Gerhard Nortier in ‘n gretige Andrew van Wyk se hande beland het wat, met skaars drie minute se spel verstreke, sy span se rekening geopen het.

  Einste Nortier het geen fout met die doelskop gemaak nie en so ook nie Maties se André Kemp nie wat kort daarna met ‘n strafdoel van 45 m geslaag het. In die 16de minuut doen Nortier sy direkte teenstander na en klits self een van ‘n goeie 45 m oor, maar na ‘n periode van volgehou druk vind heelagter Ryan Nell sy weg oor die kalklyn waarna Kemp sy verbroude doelskop met ‘n geslaagde strafdoel, en twee punte, opgevolg het. 

  Vir ‘n man wat vier seisoene lank gesukkel het om die Puk se Varsitybeker-groep te haal het Nortier Maandagaand gewys hy het die temperament vir die groot verhoë toe hy wéér met ‘n langafstand strafdoel slaag om die Potchefstromers se neuse 12-9 voor te kry.

  Wat die tweede helfte betref...stel dit so: verbeel jou ‘n boksgeveg met twee swaargewigte in die tiende ronde. Daar was houe, teenhoue, soms wou dit lyk of een van die twee sou planke toe gaan.  

  Maar, daar is geen teenvoeter vir hardkoppigheid nie en daar is bly staan tot ‘n opstopper in die laaste minuut die Puk se ken gevind het.  

  Wat sou Dok Craven in die hiernamaals vir sy brak gesê het? “Bliksem, dit was naby.”

    Vir die Puk se hoofafrigter, Hannes Esterhuizen, bly dié nederlaag ‘n bitter pil om te sluk. 

  “Dit is nie lekker om vir 79 minute voor te loop en dan in die 80ste te verloor nie. Dit maak seer. 

  “Daar is wel baie positiewes wat ons uit die wedstryd kan neem. Vir 79 minute het ons net een drie afgestaan teen een van die sterkste spanne in die kompetisie en op die aanval het ons hulle op die agtervoet gehad,” het Esterhuizen gesê.

  Positiewes wat eerskomende Maandag teen Tukkies in Pretoria uitgestal sal word.

  “Tukkies gaan ‘n perd van ‘n ander kleur wees. Ons het Maties doelbewus voor aangevat wat goed gewerk het.

  “Hulle (Tukkies) het ‘n baie sterk pak en hulle hou daarvan om te skop, dus sal ons posisionele spel baie goed moet wees.”

  Wat die universiteit se twee karakterbelaaide vertonings teen die Maroentruie betref was Esterhuizen dit eens dat dit vir die spelers meer as net oor wen gaan.

  “Die ouens speel vir daardie trui, hulle speel vir die Puk.”

   *Maandagaand se wedstryd tussen die NWU-Puk en Tukkies word regstreeks op SS1 om 19:00 uitgesaai.

  COMMENTS 
 
WEATHER
Weather for Saturday 2012-05-19
Please select your area for forecast
CPT 11° - 15° icon
PTA 7° - 25° icon
JHB 5° - 22° icon
BLOEM 0° - 17° icon
DBN 14° - 21° icon
PE 7° - 14° icon
Visit WeatherSA.co.za for a more detailed forecast.
 
What's Happening
Search by category
SCHOOLS
Find local schools
Groups / Clubs
Find local Groups / Clubs