’n Ambulansbestuurder van ER24 is geskors na ’n botsing verlede Donderdag tussen die ambulans en ’n kar met vier studente.
Volgens ER24 woordvoerder, me. Vanessa Jackson, het die ambulans met sy rooi ligte en sirenes gery nadat hulle op ’n oproep gereageer het waar ’n kind deur ’n kar omgery is. “’n 4x4-voertuig het waarskynlik die ambulans opgemerk en wou die ambulans voorrang gee om die verkeerslig by Retiefstraat en Govan Mbekirylaan oor te steek, maar het moontlik die sigbaarheid van die ambulansbestuurder belemmer sodat hy waarskynlik nie aankomende verkeer kon opmerk nie,” sê Jackson.
Die ambulans het voort gery, en met ’n Chevrolet gebots. “Die impak van die ongeluk het die ambulans op sy sy laat beland. Volgens ’n omstander wat glo die remmerke gemeet het, was dit byna 27 meter lank. Die ongeluk het om 14:00 gebeur. Die vier student was van die MooiRivier Mall na kampus onderweg toe die ongeluk plaasvind.
’n Ander ambulans is dadelik na die oorspronklike ongelukstoneel gestuur terwyl oorblywende paramedici hulp verleen het op die toneel waarin hul kollegas betrokke was.
Omstanders het die twee ambulansmanne uit die wrak gehelp waarna hul later na Mediclinic vir waarneming geneem is. Hulle het ligte beserings opgedoen en is dieselfde dag ontslaan.
Die insittendes van die Chevrolet, drie meisies en 'n man, het ernstiger beserings opgedoen. Die bestuurder van die kar, Mariska Dupper (19), is op die toneel gestabiliseer. Sy is egter met ernstige beserings per helikopter na die Milpark-hospitaal in Johannesburg gevlieg. “Sy is steeds in die trauma-eenheid en sal hopelik binne die volgende paar dae na ’n saal oorgeplaas word,” het haar pa Dinsdag aan die Herald gesê.
“In die stadium lyk dit nie of daar breuke is nie en sy herstel goed. Sy kan wel nog nie loop nie en het baie pyn. Sy kan ook nog nie haar linkerarm beweeg nie.”
Dokters sou Maandag nog toetse op Mariska gedoen het. Sy het op die ongelukstoneel gekla van ernstige nek, bors en maagpyn en het vermoedelik inwendige beserings.
Chané van der Merwe, een van die vriendinne, is met beenbreuke en gesigbeserings na Potchefstroom-hospitaal geneem. Mnr. Nico Masiu, woordvoerder van dié hospitaal, het bevestig dat Van der Merwe steeds in die hospitaal is. “Haar toestand is stabiel en sy sal waarskynlik Woensdag teater toe gaan.” Van der Merwe wou nie in hierdie stadium met die Herald prat nie.
Die ander vriendin, Juané le Roux (19), het van pyn in haar heupe gekla en is ook na Mediclinic geneem. Le Roux het Woensdag uit Mediclic aan die Herald gesê sy is Donderdagaand na die ongeluk geopereer om penne in haar heup te kry. Volgens haar het haar heup uit posisie geskuif en moes sy skroewe kry.
“Ek gaan nie vanjaar met my studies voortgaan nie. Ek sal volgende jaar met my tweedejaar begin. Juané het bewerings in 'n dagblad dat een van haar vriende op sy gebreekte been gehardloop het om hulle te help, ontken.
“Sy been was nie gebreek nie, maar hy het wel uitgeklim, die deure oopgepluk, ons bygestaan en heeltyd gesê alles gaan okay wees."
Ivan Liebenberg (19) se ma het Dinsdag uit Pretoria aan die Herald gesê haar kind se been is nie gebreek nie. “Hulle het op die ongelukstoneel vermoed sy been is gebreek, maar x-strale het gewys dit is net erg gekneus,” sê me. Wilma Liebenberg. Hy is dieselfde dag ontslaan.
“Ivan is nog baie getraumatiseer na die ongeluk omdat sy vriendinne só erg beseer is. Hy is nog emosioneel geskok, maar verder gaan dit baie beter met hom.”
Ivan wou sy vriendinne nog help kort na die ongeluk.
Volgens Jackson is die bestuurder van die ambulans geskors hangende die beslissing van die ondersoek.