Maandagaand het Atletiek Sentraal Noordwes ‘n blits-atletiekbyeenkoms gehou.
Die reën het amper die finale sê gehad, maar gelukkig was die atletiekgode almal genadig en die byeenkoms kon op ‘n nat baan voortgaan.
Dit is niks ongewoonds vir die publiek van Potchefstroom om gedurig atlete te sien oefen nie, heelparty van die atlete ook dan van ander lande.
Maandag se byeenkoms het dus ook ‘n internasionale geur gehad met atlete van onder andere Duitsland en Frankryk wat deelgeneem het.
Die prestasie is ook vinnig besig om op te tel soos die seisoen vorder en met die Suid-Afrikaanse senior kampioenskappe oor bietjie meer as drie maande, kan afrigters baie opgewonde raak oor die vroeë vorm wat die atlete ten toon stel.
Die hoogtepunt van die aand het aan ‘n plaaslike Puk -tleet behoort. Melissa Hewitt het die 100 m in ‘n blitsige 11.95 sekondes afgelê. “Ek is net weer bly om op die baan te wees,” het Hewitt gesê.
Hewitt het nie ‘n baie aangename 2011 beleef nie en is deur beserings geteister. Harde werk deur die winter het vrugte afgewerp en die prestasies sal ongetwyfeld volg. Onthou die naam Melissa Hewitt in die 2012-atletiekseisoen.