Coolboy Ngamole se naam vir die voorlopige span na London 2012, is van potlood na ink verander ná sy fantastiese oorwinning in die Suid-Afrikaanse Marathonkampioenskappe Sondag in George.
SASKOK en ASA sal moeilik ‘n verskoning uitdink om hom nie deel van die groep te maak nie.
Ngamole het die afgelope drie jaar die Suid-Afrikaanse marathon-toneel oorheers.
In 2010 het hy as ‘n individuele onbekende atleet die SA-marathonkampioenskappe in Durban gewen, verlede jaar was hy tweede by die SA’s en vanjaar het hy amper met twee minute geseëvier oor die blikoor Michael Mazibuko (2:15.12).
Oorwinning is egter nie goed genoeg om Ngamole sy plek na London 2012 te verseker nie, maar sy tyd van 2:13:18 is byna twee minute beter as die Olimpiese A-Standaard kwalifisering van 2:15.
Wat Ngamole se kanse tot ‘n keuse in die span verder verbeter, is die feit dat hy in November verlede jaar ‘n 2:10:43 gehardloop het in Valencia.
Op 34 is dié Noordwes-atleet volgens alle navorsing absoluut op sy sterkste om die moordende marathonafstand aan te pak, wat hy ook die afgelope drie jaar al bewys het.
“My doelwit is ‘n 2:06 vir London 2012”, het Ngamole met selfvertroue gesê. Verwesenlik hy hierdie droom, is die kanse baie goed dat die Olimpiese goue medalje in die marathon weer na ‘n 100 jaar na Noordwes toe kan kom.
Vanjaar is die 100-jarige herdenking van Kenneth McArthur se oorwinning tydens die 1912 Stockholm (Swede) skouspel. Dié 1912 marathon het plaasgevind in snikhete temperature en die gemiddelde minimum en maksimum temperature in London vir Julie en Augustus is 14°C tot 24°C. Die kanse vir ‘n tyd van onder 2:10 is dus baie realisties veral as die tye van die laaste vier tot ses jaar fyn dopgehou word.
“Harde werk lê vir my voor die volgende vyf maande, ek gaan nie te veel deelneem nie en baie konsentreer op spoed,” het die Nedbank-atleet gesê.