Home / Só lyk dit agter die skerms

Sondagmiddag glimlag die Vriendelike Stad nog tegemoetkomend vir die Noordwesters wat pas by die Garden Court-hotel in Port Elizabeth aangekom het.

  Moreaand speel die NWU-Puk teen NMMU in hul eerste Varsityubeker-kragmeting op die Xerox NMMU-stadion.

  Hier, dáár dartel ‘n wolkie rond bo die gety wat ritmies tou trek en dan laat skiet gee.

  Teen Maandagoggend het sy gemoed verander en vir een of ander rede is die Baai goed de joos in.

  Onder droewige donker wolke blaas hy eers sy boosheid see toe, gooi dan ‘n paar dwarsklappe op elke wang voor hy sy ontstokenheid van die kus af stad toe mik.

  Ergste is wanneer hy jou van voor af vang. Sien, dan klou jou T-hemp aand elke ongewenste ronding op jou bolyf, en dit in die aangesig van welgeskape drawwers.

  Hier is bloos jou voorland.

  Half nege en ‘n ry Pukke in maroen gholfhemde staan in tou voor die hotel se kosbakke.

’n Studente-rugbyspeler is mos iets êrens tussen ‘n ruspe en kooloond op ‘n stoomtrein: hy moet met kos gestook word.

  Daarom dan ook peuselhappe om 12:00 en ‘n koolhidrate-opvulling net voor 17:00.

  Hoewel dit buite woed skort daar min met die span se gemoedere.

  Tiaan Dorfling en Gerhard Nortier, die Puk se skakelpaar, hou koukus terwyl haker JC Oberholzer sy vuis bal en duim wys – die universele gebaar vir “ek is reg”.

Gisteraand het die takhaar vaskopstut, Pens Scharneck (Henry vir sy ouers), gesê sy bek kwyl al behoorlik vir Maandag se kopstamp.

  “Dit help nie mens panic voor die tyd nie. Hierso teen vieruur begin die afwagting eers rêrig inskop. Mens kyk so bietjie TV om jou mind weg te kry,” vertel agtsteman Spanner Pretorius.

  Vroulief Janél word soggens eerste gebel.

  “Ek wil eers dadelik hoor of sy oraait is en of sy lekker geslaap het. So drie ure voor die wedstryd bel ek my pa, dan is ek reg.”

  Pa Johan wat in sy dag vir die destydse Wes-Transvaal en ook Griekwas uitgedraf het.

  Die universiteit se heelagter, SW Oosthuizen, gee sy ouers ’n luitjie deur die lang wag op wedstryddag.

  “Hulle motiveer my nogal baie en gee my hope raad. Deur die gag gaan mens maar net deur die motions. Daar is altyd ‘n bietjie stress voor ‘n belangrike wedstryd, maar mens wil nie te veel energie daarop mors nie. Jy vat dit rustig en luister so bietjie musiek,” verduidelik Oosthuizen.

  Vieruur die middag word die manne gebind en gepleister voor hulle vyfuur in die spankamer bymekaarkom.

  Die praatjie hier duur sowat 15 minute en dan is dit veld toe waar hulle in die kleedkamer vergader. Sowat ‘n halfuur voor afskop word daar opgewarm en dan 19:00 is dit...

  “Die wind gaan ‘n groot faktor vanaand wees. Hulle ken die wind hier goed,” sê Oosthuizen.

  “Ja,” sê Pretorius, “Dit gaan takties ‘n reuse invloed hê. Ons sal hulle foute goed moet uitbuit want die span wat die minste foute maak gaan hierdie een wen.”

  “Definitief,” voeg die nommer 15 by.

  Teen die middag is daar nie ‘n wolk in die lug nie, net die sirene van die wind wat loei soos hy probeer om die sand van die aarde te vee. 

  COMMENTS 
 
WEATHER
Weather for Saturday 2012-05-19
Please select your area for forecast
CPT 11° - 15° icon
PTA 7° - 25° icon
JHB 5° - 22° icon
BLOEM 0° - 17° icon
DBN 14° - 21° icon
PE 7° - 14° icon
Visit WeatherSA.co.za for a more detailed forecast.
 
What's Happening
Search by category
SCHOOLS
Find local schools
Groups / Clubs
Find local Groups / Clubs