Die gras staan heuphoogte by die ingang van Potch vanaf Johannesburg en die kante van die pad lê boonop besaai met vuilgoed wat by karre uitgegooi word.
Ore wil weet waarom die stadsraad nie maar net so 'n ent van die eerste kruising af die gras mooi netjies kort kan sny nie? Hoe moeilik (en duur) kan dit wees om 'n trekkertjie met 'n bossiekapper so twee keer in 'n maand soontoe te stuur? Dink net aan die groot verskil wat dit sal maak as mens Potch binnery.
En dan wil Ore weet waarom die beddings op die middelman vanaf die kruising die stad in nie ook bietjie onderhou word nie. Dit lyk sleg. Daar is beddings (as jy mooi kyk) maar hulle word net so aan hul eie genade oorgelaat. Weereens, hoeveel kan dit kos om iemand een keer in twee weke die beddings te laat skoonmaak. Is ons dan nie trots op in stad nie? Kan die raadslid van daardie area nie maar gaan mooipraat nie, want Ore verstaan hulle kan nie opdragte gee nie.
Stadig broer
Ore wil vir die jong man met sy helder oranje Ford-karretjie wat Maandagmiddag omstreeks kwart voor ses so vinnig in Thabo Mbeki-rylaan voor Gimmies verbygejaag het sê hy gaan die horlosie nie kan terugdraai as hy daar 'n kind doodry nie.
Behalwe dat dit onwettig is om so vinnig daar verby te jaag ry mens nie so vinnig verby 'n skool nie. Daar kom kinders oor die pad van sportoefening af en daar hou motors stil waaruit kinders klim. Boonop jaag hy toe verder in die rigting van Gerrit Dekkerstraat en gaan op 'n sperstreep net voor die stopteken verby 'n ander motor, verminder net effens spoed en gaan toe oor die stopteken sonder om te stop in Gerrit Dekkerstraat in. As hy gewonder het of dit sy kar is van wie Ore se vrind praat dan het ons vir hom 'n registrasienommer om te help, naamlik FRJ 991 NW.
Kom uit agter bome
Dit bring Ore by 'n volgende punt. Ore lees nou die dag dat een of ander grootkop sê (dit was nadat daar weer so baie mense op ons paaie dood is die vakansie) dat spietkops verbied moet word om so agter bome en pale weg te kruip om mense vir spoed te vang. Hulle moet eerder, sê hy (nie Ore nie), oop en bloot hul werk doen, sigbaar, want die spoedvangery doen niks aan mense wat al die ander verkeersreëls oortree nie. Dit doen ook niks aan onpadwaardige voertuie nie.
Ore wil dit vir Potch ook voorstel. Ry bietjie rond in Potch en kyk hoe word verkeersreëls links en regs geignoreer. Ore wonder hoeveel taxi's 'n padwaardigheidstoets sal slaag.
Die moeiliheid met hierdie wetteloosheid oor verkeersreëls in Potch is dat Ore en sy vrinne nou al begin neig om maar ook so te maak. Ook nie meer stil te hou by stopstrate nie. Waar gaan dit stop?
Kan ons raadslede dalk 'n vraag in die raadsvergadering vra dat daar vir ons gewone ouens uiteengesit word hoeveel vakante poste vir verkeersbeamptes daar tans is, wanneer gaan dit gevul word en of daar nou snags ook verkeersbeamptes aan diens is.
Skoonhede “vergeet” jool
Ore verneem die hele vlotoptog het Saterdag ongeveer 45 minute laat begin nadat die Joolpersoonlikheid en haar prinsesse klaarblyklik verslaap het. Nadat die tweede prinses eerste opgedaag het, is daar besluit om die optog aan die gang te kry en het die ander twee slapende skoonhede eers later aangesluit. Nou wonder Ore of die vlotbouery Vrydagaand die skoonhede laat vergeet het om hul wekkers te stel? Dis darem nie mooi om duisende inwoners wat die strate so belyn het (en die verkeersbeamptes wat oortyd betaal moet word) so te laat wag nie!
Goue oor:
‘n Vriend van Ore laat weet dat ons gerus kritici van die stadsraad bietjie moet sus met die goeie daad van onse stadsraad. Ore se vriend laat weet dat al drie die stadsraad se vullisverwyderingstrokke stukkend is. Maar ‘n boer (of raad) maak ‘n plan en karwei al die heel week die vullis weg met ‘n trekker en tien-ton sleepwa. Ore gee graag vir die raad ‘n goue oor en sê hou so aan!