Dêmmit! Skoliere kan nie eens meer met ’n geruste hart van 'n sportoefening koshuis toe loop nie of hulle word slagoffers van misdaad en dit helderoordag.
Dit volg nadat ’n matrikulant van Gimmies Donderdagmiddag naby dié skool se rugbyveld in Mooivalleipark met ’n ysterpyp oor sy kop geslaan en beroof is. Die voorval het omstreeks 17:30 by die bruggie, wat oor die Mooirivier op pad na die sportgronde van Gimmies is, gebeur.
“Ek was na rugby-oefening op pad terug koshuis toe. Ek was seker net oor die bruggie toe ek iets agter my hoor wat klink soos iemand wat aangedraf kom. Net toe ek omdraai, sien ek twee mans. Een het my met ’n pyp teen my kop, net bokant my slaap, katswink geslaan.
“Ek was dadelik uit.”
Die matrikulant se vermeende rowers het net sy beursie vasgelê en spore gemaak.
“Die volgende oomblik het ek by die koshuis wakker geword. Hoe ek daar gekom het, weet ek nie. Alles is net ’n ‘blank’”, vertel die matrikulant. Hy sê egter dat hy seker bo-op sy selfoon moes geval het omdat die rowers nie sy foon gesteel het nie.
Hy het ligte harsingskudding opgedoen en het ’n knop op sy kop van die aanval oorgehou.