Vir ‘n elite atleet is daar net een mikpunt op die atletiekbaan: ‘n wen.
Maar die gewone mens op straat kan ook met groot genot aan padwedlope deelneem. Die klem is nie noodwendig ‘n wen nie, maar deelname, genot en die vermoë om iets te doen wat voorheen onmoontlik gelyk het.
Die Bert’s Great Bric-wedren is een van daardie wedlope wat met ‘n unieke konsep nie net vir die ‘elite’ hardloper nie, maar ook vir die swoeg-en-sweet manne voorsiening maak.
Behalwe vir die verskillende afstande en die voorsiening wat gemaak word vir stappers, is daar ‘n wedloop binne ‘n wedloop wat die eerste 100 atlete die geleentheid gee om ‘n sespak biere los te hardloop, mits hulle bereid is om ‘n baksteen saam te dra vir die tweede helfte van die wedloop.
Vanjaar het ‘n groot groep deelnemers dié uitdaging met ope arms aanvaar en steeds tye aangeteken wat ander mense nie eens van kan of wil droom nie en dit sluit lede van die skoner geslag in.
'n Kenmerk van die 2012-wedloop was die maklike oorwinnings wat die mans en vroue in die 10 km- en 21.1 km-wedlope behaal het.
Die 10 km is gemaklik deur Coolboy Ngamole en Minette Bell gewen met Lebogang Masilo en Rosalind Lourens wat die 21.1 km met 'n ligjaar of twee voor die tweede plek.
Die 573 deelnemers kon nie kla oor die verloop van die wedloop nie, alles was perfek gereël, vanaf die inskrywings, afstandsborde, verkeer, medaljes en prysuitdeling.
Deelnemers kan uitsien na die volgende jaar se 30ste weergawe en as die organiseerders dieselfde standaard handhaaf, is dit ‘n moet vir die 2012-hardlopersdagboek.
Die 10 km en 21.1 km se wenners is as volg:
10 km
Mans – junior, Mojalefa Dassie 36:26. Senior - Coolboy Ngamole 30:21; 35-39, Koos Mogatle 35:25; 40-49, Kaizer Phakathi 38:44; 50-59, Charles Niewenhuys 46:02; 60+, Koos Espach 1:04:30.
Vroue – senior, Minette Bell 42:11; 35-39, Linda Lombard 48:01; 50-59, Marietjie Montgomery 47:08. Stapper - Jessica van Wyk 54:26.
21.1 km
Mans – senior, Lebogang Masilo 1:08:50; 40-49, Phika Sikhosana; 50-59, Les Irvings 1:35:21; 60+, Jeffrey Sales 1:37:09; Stapper, Totius du Plessis 2:11:04; eerste atleet met baksteen, Sipho Mazibuko 1:19:34.
Vroue – junior, Sello Moepi 1:45. Senior, Rosalind Lourens 1:24; 35-39, Daleen vd Merwe 1:43; 40-49, Mari Bruwer 1:32:46; 50-59, Erika Niewoudt, 1:43. Stapper, Zelna Olivier 3:05:01. Eerste atleet met baksteen, Linda van der Gryp 1:43.