Kuierplek nou gesluit
Barbare... dit is wat die slagoffers van ‘n gewapende roof by ’n bekende kuierplek in Potchefstroom van hul aanvallers sê.
Rowers het verlede Woensdagnag tot in die vroeë oggendure van Donderdag op Sports Café in Mooivalleipark toegeslaan net voor dié kuierplek wou sluit en twee studente meisies die plek wou verlaat.
Een van die meisies (22) ’n vyfde jaar student wat vir die NWU-Puk se eerste netbalspan speel, se hemp is van haar lyf geskeur om haar en haar vriendin (23) se hande vas te bind.
“Ons was op pad uit toe vyf mans met pangas op ons afstorm. Hulle het ons beveel om op die grond te lê,” vertel die 22-jarige slagoffer wat anoniem wil bly.
“Daarna wou hulle ons hande met vasmaak maar hulle het gesukkel. Dit het gelyk of hulle nie weet hoe om met kabelbinders te werk nie. “Toe trek hulle my hemp uit en skeur dit om ons hande agter ons rûe vas te bind.”
Die rowers het by ‘n agterdeur van Sports Café ingekom. Hulle het die bestuurder agter die kroeg by die ysmasjien met selfoonlaaiers vasgebind en in ’n stadium met kratte katswink geslaan. Hy is glo herhaaldelik geskop en met pangas gesny. “We’re gonna kill you after we are finish” het hulle vir hom gesê.
Die rowers het glo die meisies gedreig dat hulle verkrag gaan word, maar niemand is verkrag nie. Duur drank is ook oor die bestuurder uitgegooi terwyl die rowers na geld gesoek het.
Dit blyk dat die rowers amateurs kon wees. “Nadat die rowers weg is, kon ek myself maklik loswikkel omdat ek nie styf vasgemaak was nie.
Sy het daarna haar vriendin losgemaak, oor die kroeg gespring en die bestuurder ook losgemaak.
“Ek was heeltyd kalm en het dadelik die polisie gebel en daarna Mooirivier Beskerming.”
Benewens die skade wat hulle in die kuierplek aangerig het, het die rowers een van die meisies se handsak gesteel, al die duur drank, drie platskerm-televisies, ’n oorhoofse projektor, klanktoerusting en ’n onbekende bedrag geld.
Hulle het met die besturder se motor op vlug geslaan. Die polisie het intussen die afgelope naweek die motor opgespoor.
Die eienaar van Sports Café het na die voorval die klub se deure gesluit. “Ek wil nie mense se lewens verder in gevaar stel nie en ek kan nie bekostig dat mense dalk hul lewens verloor in so afgeleë donker plek wat ’n sagte teiken is nie.”