Dinsdagmiddag se kort, maar hewige haelstorm het glad nie paramedici se vinnige optrede en professionele diens gestuit nie.
’n Motorfietsryer wat ‘n weermagsoldaat is, het met sy motorfiets teen die bestuurderskant van ’n bakkie vasgery wat glo uit ’n oprit in Jeugdstraat wou ry. Die motorfiets het onder die bakkie ingeskuif.
Paramedici het gesukkel om by die pasiënt uit te kom omdat hulle nie die bakkie kon skuif weens onvoorsienbare beserings van die man nie.
Paramedici het nie op hulle laat wag nie en die man onder die bakkie behandel. Dit was nie ’n maklike taak nie en ’n uitdaging vir die span van ER24 onderwyl die hael op hulle neergeval het.
Potchefstroomse brandweer het later met behulp van hidrouliese toerusting die bakkie opgelig om die motorfietryer te bevry. Dit het bykans ’n uur geduur om die man onder die bakkie uit te kry. Hy is in ’n stabiele toestand na Potchefstroom-hospitaal geneem en is intussen uit die hospitaal ontslaan.