“Sulke mans se gedagtes neem bloot heeltemal oor en hulle besef nie dit wat hulle doen is verkeerd nie.”
Dis die woorde van ’n senior polisielid na aanleiding van ’n beweerde verkragtingsvoorval wat verlede week by die Bailie Kriek wonings in Potchefstroom plaasgevind het.
“Toe ek hoor my dogter is verkrag, was ek in absolute skok,” sê die pa van die verkragtingslagoffer. “Ek het die ou al eenkeer gesien en hy het nie sleg gelyk nie. Hy was oraait behalwe vir sy tattoo op sy regterarm.”
Die 24-jarige meisie is verlede Woensdag 4 Januarie, in die vroeë oggendure in haar woonstel deur iemand wat sy ken, verkrag.
Die vermeende verkragter het verlede Donderdag die eerste keer in die landdroshof van Potchefstroom op aanklag van verkragting verskyn. Hy is verlede Vrydag op R5 000 borg vrygelaat. Na verneem word boer sy ouers in die Potchefstroom-omgewing en het hy verlede Dinsdag glo by die NWU-Puk begin werk.
Hulle het mekaar geken en was Dinsdagaand saam na ’n braai. Na die braai is hulle terug na die meisie se woonstel. Sy het by die NWU-Puk afstudeer en werk tans in Potchefstroom.
In die woonstel het hy haar glo op die bed vasgedruk en teen haar wil gemeenskap met haar gehad.
“Sy het probeer om terugbaklei, maar hy het haar net oorweldig. Sy is nie sterk nie en klein gebou,” het haar pa gesê. “My dogter het deur een van die vroue in die kerkkoor die vent ontmoet. Hulle het mekaar ’n maand of so geken.”
Die slagoffer het kort na die voorval een van haar vriende gebel wat haar gaan ondersteun het.
Die saak is Woensdag by die polisie aangemeld waarna die vermeende verkragter in hegtenis geneem is.
“Ek kan bevestig dat die werknemer vanaf 1 Januarie 2012 by die Noordwes-Universiteit aangestel is,” sê mnr. Johan van Zyl, woordvoerder van die NWU-Puk. Hy het voorts gesê die werknemer bly in diens van die universiteit. “Die NWU behou egter alle regte voor, tot na afhandeling van die strafregtelike aanklagte teen hom. Daarna sal besluit word of daar dissiplinêr teen die werknemer opgetree sal word.”
Volgens kapt. Mvula Chaka, woordvoerder van die polisie, kom die saak weer op 23 Januarie voor.
Omdat hy nog nie gepleit het nie, kan die beskuldigde se naam nie bekend gemaak word nie.