TUISBLAD  


Geplaas 27 Augustus 2010

Hospitaal stuur ouma huis toe - sterf

Abrie Bronkhorst

‘n 73-jarige ouma wat ernstige veelvuldige beserings in ‘n ongeluk opgedoen het, is na ondersoek deur ‘n dokter in die Ventersdorp-hospitaal aangesê om maar huis toe te gaan. ‘n Week na die ongeluk het sy in ‘n koma gegaan en is Saterdag oorlede.

Me. Lenie van den Berg en haar man Kerneels (69) van ‘n plaas naby Ventersdorp was op 3 Augustus met hul bakkie in ‘n ongeluk sowat tien kilometer buite Ventersdorp met ‘n weermagvoertuig betrokke. Die bestuurder van dié voertuig, weerman S.R.Maletswa (44) van Zeerust, is op die toneel dood.

Die Van den Berg-egpaar se dogter, me. Veronica Karaiskos, het gesê haar ouers se bakkie is so hard getref dat dit opgelig en toe gerol het. "My ma-hulle is met ‘n staats-ambulans na die Ventersdorp-hospitaal geneem. My ma het veelvuldige beserings opgedoen en my pa het sy sleutelbeen gebreek en was in baie pyn."

Nadat hulle daar ondersoek is het die dokter gesê hulle kan maar huis toe gaan. Hulle is vandaar na Potchefstroom Medi-Clinic geneem waarna hulle na die Potchefstroom-hospitaal oorgeplaas is.

Van den Berg het later ‘n beroerte gekry waarna sy verlam was in haar regterlyf, het Karaiskos gesê. "Sy het ‘n week na die ongeluk in ‘n koma gegaan en is Saterdagoggend omstreeks 02:10 oorlede.

"Sy het baie gely die laaste drie weke. Potchefstroom-hospitaal was baie goed vir my ma. Dit wat hulle vir my ma gedoen het, was puik, hulle kon nie beter nie.

"My pa het op 9 Augustus 69 geword."

Die begrafnis is op 28 Augustus en die diens sal om 11:00 vanuit die Evangeliese Gereformeerde kerk in Ventersdorp plaasvind.

"Die ergste van alles is dat my ma-hulle op 29 Augustus 46 jaar getroud sou wees". Me. Van den Berg laat haar man Kerneels, twee dogters me. Veronica Karaiskos, me. Susan du Preez, ses kleinkinders en vyf agterkleinkinders na.

To top

 

 

© Copyright 2006-2007 Herald
potchefstroomherald.co.za is the creation of Leandra van Rooyen.
All work remains the property of The Potchefstroom Herald, unless expressly granted by written permission from the author or editor.
Individual articles remain the sole property of the original author.